Jonk en oud ken die musiek van die super suksesvolle groep ABBA. Mens hoef maar net daagliks na die radio te luister om te hoor hoeveel van hulle treffer-liedjies gereeld gespeel word. Danksy die rolprente en musiekblyspele “Mama Mia”, is die jonger garde ook bewus van die betowering van ABBA se musiek.
 

Kort voordat dit bekend geword het dat die super-groep van die sewentigerjare, ABBA, weer bymekaar kom om  ‘n CD uit te reik, het NTO aangekondig dat hulle hul produksie van “THANK YOU FOR THE MUSIC” op ‘n nasionale toer neem.
 

Die produksie streef nie daarna om ABBA na te boots nie, maar is eerder ‘n hulde-konsert bestaande uit al hul top treffers. Die vier Kunstenaars voer verwerkings van treffers soos “Waterloo”, “Mama Mia”, “The Winner takes it all”, “Money, money money” en ‘n verdere 22 treffers van ABBA uit.
 

Die produksie bestaan uit solo’s, duette sowel as ensemble werk.  Gehore kan uitsien na ‘n nostalgiese twee ure in die geselskap van hierdie groep talentvolle sangers.  Al die liedjies is ou bekendes en gehore is welkom om saam te sing, te dans en hande te klap.